Hoogtepunte 2015/16

A. Porter het op 31 Mei 2015 afgetree as Bestuurder/Hoof van hierdie sentrum na 16 jaar diens gelewer. Mev Tossie du Toit het gedurende Junie & Julie 2015 afgelos as Waarnemende Bestuurder. Mev R. Lindholm aanvaar diens as Bestuurder op 1 Augustus 2015. Twee nuwe maatskaplike werkers het op 1 September 2015 in diens getree, Me, C. Appels en A. Maree.

Die jaarlikse Kettingtee en Kerrie en Sjerrie fondsinsamelings funksies was baie suksesvol. Tydens ons Jaarlikse Kettingtee het verskeie dogters as kelnerinne opgetree en die klere van Immortal Boetiek, ten toon gestel. “La Belle Finishing School”, het gehelp met die afrigting van die modelle. Vanjaar het ons ook ‘n Winterkos Fees gehou wat in samewerking met Francois Ferreira Academy aangebied is. Koos van der Merwe was by hierdie geleentheid die gaskunstenaar.

Op 1 September 2015 het ‘n nuwe tydperk aangebreek waar alle nuwe opnames deur die Department Maatskaplike Ontwikkeling se sentrale Opname Sentrum hanteer word. Gedurende die implementering van hierdie nuwe proses was daar baie uitdagings wat daagliks bestuur word. Gedurende Oktober en November 2015 het alle personeel ‘n selfontwikkelings/spanbou kursus voltooi.

Gedurende November 2015 was die hoogtepunt die jaarlikse prysuitdeling waar elke kind ‘n diploma ontvang het en erkenning gekry het vir positiewe gedrag en groei gedurende die afgelope jaar. Tydens hierdie geleentheid het 3 van ons dogters ‘n gedig voorgedra, ‘n geestelike dans en bewusmakingspraatjie na aanleiding van die tema 16 Dae van Aktivisme teen Geweld van Vroue en Kinders, gedoen. Ons Diva sanggroep het ook opgetree en lede van die Drama groep het gaste vermaak met ‘n opvoering, “Gaan en doen dieselfde”, wat gebaseer is op die Bybelstorie van die Barmhartige Samaritaan.

Gedurende Desember 2015 en Januarie 2016 is ons kinders weer bederf met verskeie kerspartytjies deur vrywilligers en kerkverteenwoordigers, wat reeds jaarliks ‘n instelling geword het. Die “Santa’s Flight” waar die kinders bloot gestel word aan ‘n vliegtuigrit was weereens vir elke kind ‘n onvergeetlike ervaring.

DANKIE

Ons opregte dank en waardering aan elkeen wat gedurende Desember en Januarie ons kinders se harte verbly het met hul omgee. Die “Skoenboks” projek wat vir elke kind ‘n kersgeskenk voorsien,is verseker ook ‘n hoogtepunt van die Kersseisoen. Baie dankie vir elke persoon wat hierdie geskenke met soveel liefde voorberei en voorsien.

2 Maart 2016 het ons ‘n “DANKIE-Sê” Tee gehou en 35 vrywilligers het die geleentheid bygewoon. Sonder ons toegewyde vrywilligers en donateurs is ons werk nie moontlik nie. Baie dankie aan elkeen wat betrokke is by ons kinders. Tydens hierdie geleentheid, het een van ons dogters gaste vermaak en ‘n pragtige gedig voorgedra.

5 Kinder-en Jeugsorgwerkers het sedert Mei 2015 hul ingeskryf by Hugenote Kollege vir hul diploma as Kinder- & Jeugsorg werkers. Hierdie kursus strek oor een jaar. Die Hugenote Kollege kom bied die lesings en eksamens gedurende die kwartaal by die sentrum aan. Hulle word bewonder vir hul deursettingsvermoë, opoffering en dryfkrag. Die 5 persone ontvang hul diplomas op 26 Augustus 2016.