Georgie besoek Môreson

GO GEORGE vier Donderdag, 8 Desember 2016, die busdiens se tweede verjaarsdag op dieselfde dag as die amptelike ingebruikneming van die nuwe George-vervoerkern (transport hub) in die middedorp.

Georgie, die GO GEORGE-gelukbringer, het sommer gou in ‘n baie gewilde persoonlikheid en selfiemodel ontpop en geniet geleenthede waar hy met die publiek kan praatjies maak en die jongspan se dag kan opkikker. Hier verduidelik hy die busdiens aan ‘n groep kinders van die Môreson-jeugsorgsentrum gedurende hul kuiertjie by die Legacy-sentrum vir gestremde kinders in Denneoord.

Uitvoerende burgemeester van George, raadsheer Melvin Naik, het die projekvennote in hierdie “uitdagende, maar uiters vervullende openbare vervoer-projek” gelukgewens. “Ek kan aan geen beter manier dink om twee jaar van diens aan die gemeenskappe van George te vier as om die baie gerieflike en moderne vervoerkern Donderdag oop te stel vir ons mense nie! Die munisipaliteit is daartoe verbind om enige uitdagings aan te spreek om hierdie droom van veilige en bekostigbare openbare vervoer vir al ons gemeenskappe te verwesenlik.”

Naik het ook daarop gewys dat die siviele ingenieursdepartement baie besig was met die opgradering van infrastruktuur om die oorblywende fases van die busdiens te akkommodeer, en sal voortgaan daarmee.

Volgens Harold Basson, direkteur van siviele ingenieursdienste by die George-munisipaliteit, is 99 bushaltes sowel as oorklimstasies in Thembalethu reeds voltooi, asook aansienlike opgradering van die paaie en kruisings in daardie gebied. “Ons is ook baie bly om te kan sê dat die installering van die eerste 30 permanente busskuilings op die huidige roetes pas voltooi is, en dan is ons natuurlik uiters trots op die nuwe vervoerkern wat ‘n onderdak dienssentrum vir die gerief van ons passasiers sal wees.”

GO GEORGE-bestuurder, James Robb, sê die eerste twee jaar van die vestiging van so ‘n omvangryke diens het sy eie uitdagings gebied, “maar wanneer ons terugkyk op wat ons al bereik het en die mate waartoe George se inwoners die projek omarm, is ons diep dankbaar vir hoe ver ons gekom het. Munisipaliteite in die res van die land neem kennis van ons uitdagings en prestasies en versoek toenemend om George vir studiedoeleindes te besoek om uit ons ervaring te leer.”

Mylpale gedurende die tweede bestaansjaar van die busdiens sluit in:

  • kaartjieverkope wat 11% gegroei het, vergeleke met hierdie tyd verlede jaar, met ‘n gemiddeld van ongeveer 12 500 kaartjies wat daagliks verkoop word (weeksdag- en naweekverkope sal verskil)
  • verdriedubbeling van die aantal kaartjieverkoopspunte wat buskaartjies verkoop – dit sluit huiswinkels en mobiele kaartjieverkopers wat kaartjies by bushaltes verkoop in, wat bydra tot die munisipaliteit se visie van plaaslike ekonomiese bemagtiging;
  • die oprigting van 30 permanente busskuilings;
  • bekendstelling van Georgie, die busdiens se gewilde gelukbringer;
  • opvolgopleiding vir busbestuurders in die verskaffing van ‘n toeganklike vervoerdiens aan gestremdes;
  • implementering van blitsritte en -roetes om spitstyddiens te verbeter, en
  • die oprigting en ingebruikneming van die George-vervoerkern.