Geskiedenis

WAAR HET ALLES BEGIN

Om die geskiedenis van Môreson op te teken is soos om terug te loop op die spoor van ‘n storie uit ‘n kinderboek, met die verskil dat hierdie storie regtig plaasgevind het.

Op 29 Mei 1917 besluit die ACVV George om ‘n huishoudskool vir 13 arm en behoeftige dogters uit die gemeenskap te stig, sodat hulle as huishoudsters opgelei kon word. Daar was geen fondse nie, en ACVV-lede is gevra en aangemoedig om iets by te dra vir die inrigting. Mev. M.C. Stander, die Voorsitter van die ACVV-tak, het elke lid gevra om bv. “een kussin en twee verskonings te geven”. Sy beloofde een stuk linne te geven voor onderklere van kinderin” Mev Stander het ook “zeil voor katels” belowe.

Die inrigting sou op 26 Julie 1917 open en die eerste huis op die hoek van Wellington- en Courtenaystraat word gehuur teen 4 pond per maand. Die matrone was ene Mej N. Fourie (sy het later Mev Jordaan geword en in Hibernia straat 2 gewoon). Aan die begin het die matrone al die werksaamhede alleen behartig, met die hulp van die dogters. Soos die getalle gegroei het, moes daar later meer personeel aangestel word. Die dogters is in allerhande huishoudelike take opgelei, en van hulle is later deur welvarende gesinne ingeneem om te help met lap en stopwerk, asook versorging van kinders.

Op 28 Augustus 1917 word daar besluit dat dogters kookkuns klasse kan bywoon. Van die “Inwendige Sendingkommisie” word ‘n 100 pond gevra vir ondersteuning. Dogters sou ook voortaan donkerblou uniforms dra.

Op 27 Januarie 1918 word besluit om ‘n basaar te hou vir fondsinsameling, en ‘n bedrag van 3 pond word vasgestel vir dogters wat wil inwoon. Daar word ook leesboeke aangeskaf en op Die Burger, Die Huisgenoot, Die Kerkbode en Sarie ingeteken.

In 1919 word daar besluit om ook ‘n onderwyseres en ‘n huishoudster aan te stel. Uit ‘n notule van 3 Maart 1919 blyk die volgende: die huismoeder sou ‘n salaris van 120 pond per jaar met vrye inwoning ontvang en die huishoudster 40 pond per jaar met vrye inwoning.

Gedurende ‘n Kongres te Robertson, word daar in 1920 besluit dat die Huishoudskool voortaan onder die Unie Departement sou sorteer en word ‘n toelaag van 33 pond per kind toegestaan deur die Unie Onderwys Departement.

Die skool wat aanvanklik as ‘n Huishoudskool begin het, word dus in 1920 omskep in ‘n staatsgesubsidiëerde Kinderhuis. In 1923 word daar deur die bestuur besluit om jaarliks ‘n verslag aan die ACVV te stuur oor die werksaamhede en in 1925 vra

Mej Issie Schoeman ondersteuning van die ACVV. Teen 1927 is daar 82 dogters in die Huishoudskool.

In 1929 het die getalle van die dogters gedaal tot 46 en is ‘n versoek aan die Departement gerig om dit aan te vul en aan die begin van die dertigerjare is die versoek herhaal. Daarna het die getalle geleidelik tot ‘n 100 dogters gestyg en is ‘n ander gebou in Yorkstraat betrek. Die ouderdomme van die dogters het gewissel van 8 maande tot 18 jaar.

In 1930 word daar ook besluit om die inrigting ‘n naam te gee, naamlik Môreson.

In 1937 laat weet die Departement van Volkswelsyn dat dogters van 18 jaar, hul ontslag uit die inrigting kan kry. Mej schoeman, wat 17 jaar ‘n minimum vergoeding (behalwe ‘n 10 pond bonus in 1936) gewerk het, besluit om te bedank en dit bring Môreson voor nuwe probleme te staan.

Nuwe probleme en opsies

In September 1937 kom die ACVV te staan voor drie opsies naamlik dat:

1) Môreson aan die Regering oorgedra word;

2) ACVV Hoofbestuur versoek word om dit ‘n inrigting van die vereniging te maak;

3)  Die plaaslike ACVV tak die volle verantwoordelikheid moet dra.

Uiteindelik besluit die ACVV om die Môreson inrigting onder sy beheer te hou, en dat

Môreson bestuur sou word deur ‘n subkomitee bestaande uit 7 lede van die plaaslike tak, en drie manspersone: 1 verteenwoordiger van die kerk en 2 uit die onderwys.

Administrasie word uitgebrei

In Februarie 1938 word besluit om ‘n sekretaresse aan te stel, en wel dan ene Mej Schreuder. Die eerste ouditeur van die inrigting se boeke was Ds Lötter, en in 1939 word die eerste tjekboek in gebruik geneem. Toelae per kind het nou gestyg van 22 pond tot 48 pond en daaruit moes alles – salarisse, klere, huisraad, kruideniersware, ens. betaal word.

Sprokie van ‘n weeskind

Uit ‘n notule van ‘n Bestuursvergadering van 4 Februarie 1970, blyk dit dat die kinderhulp, ene Magrietjie (Grietjie) Visagie se vriend toestemming gevra het dat sy aan hom verloof mag raak. Dit blyk dat sy een van die kinderhuis-kinders was wat aangestel is om met babas en kleuters te help. Die Bestuur het goedkeuring verleen dat sy verloof kon raak en ook besluit om haar loon van R20 per maand te verhoog na R25 per maand (sou dit dalk wees omdat sy verloof geraak het?).

Op 23 Julie 1970 word daar besluit dat die Bestuur Grietjie se troue sou reël, en wel

dan ook vir die 5de Desember 1970 in die eetsaal van Môreson!

Die eerse egpaar aangestel

In Oktober 1970 word besluit om ‘n egpaar aan die hoof van Môreson aan te stel. Die man sou as prinsipaal R200 kry en die vrou, as hoofmatrone ‘n R100. Mnr en Mev H. Schoeman word in hierdie poste aangestel.

Nuwe geboue kompleks

In 1953 is daar besluit dat die inrigting so uitgebrei het dat ‘n nuwe gebouekompleks benodig word. Lank voor die bouwerk begin, word daar eers van ‘n skoolkoshuis in Aspelingstraat gebruik gemaak, en die Outeniqua Hostel in Meadestraat word vir 14 jaar gehuur. ‘n Huis in Rosestraat word ook vir ‘n lang tyd gehuur. Hoewel die blokstelsel nou onefektief en verouderd was, en die nuwe huisstelsel meer voorsiening sou maak vir die opgroei van kinders in ‘n meer natuurlike “familie”-opset, word daar tog op ‘n bestuursvergadering van 24 Oktober 1974 teen die huisstelsel besluit. Daar moes dan eerder ‘n groot gebou met vleuels gebou word. Dit realiseer egter nie want op hierdie stadium was die bouplanne vir afsonderlike huise alreeds goedgekeur, dus moes die bestuur maar die nuwe huisstelsel aanvaar.

Die Huisstelsel sou die versorging van min of meer 10 kinders in elk van die huise met ‘n huisouer(s) behels, om na hul behoeftes om te sien. Sodoende sou elke huis as ‘n “gesin” funksioneer.

Uiteindelik, na 23 jaar – op 11 Februarie 1976 – word daar begin met die bouery van die huidige kompleks. Die eerste vyf huise van diè kompleks word op 25 Julie 1977 betrek. Die sesde en sewende huise is in 1979 in gebruik geneem. Die eerste Bestuursvergadering  in die nuwe geboue van Môreson, het plaasgevind op die 24ste Augustus 1977.

Die inwyding van die nuwe geboue vind op 8 Februarie 1978, plaas.

Die program op die uitnodigings na die inwyding van die geboue is soos volg:

  1. Verwelkoming – Ds J.G Moolman
  2. Openingsgebed – Ds C. Steyn
  3. Die Môreson van Gister en Vandag – Mev J.C. Potgieter
  4. Openingsrede – Minister van Gemeenskapsbou en Toerisme Mnr Marais Steyn.
  5. Oorhandiging van sleutel aan Mev Tini Vorster (vrou van destydse Eerste Minister B.J. Vorster).

Die omslag van die uitnodigings is ontwerp deur Daan Roestorf (vandag ‘n bekende skilder) en die drukwerk is deur Oudshoorn Courant gedoen.

Uitbreiding het noodsaaklik geword en op 1 Maart 1979 is nog twee huise in gebruik geneem. In Julie 1980 is ‘n huis op die grens van Môreson, Chathcartstraat nr 4 aangekoop as prinsipaal woning. Die kantoorkompleks, sentrale kombuis en motorhuise is amptelik op 10 Junie 1983 in gebruik geneem.

Op 28 November 1997 is daar, na ‘n lewendige bespreking, besluit om die Nomads se aanbod vir ‘n swembad, te aanvaar.

Nuwe name, nuwe gesigtige

Einde Desember 1985 het Mev Sorette Kruger as Hoof bedank en is Mev Ria Hatting aangestel. Sy is opgevolg deur Mej Lynette Rossouw.

In 1986 word daar besluit dat, in plaas daarvan om Môreson se naam te verander, sou elkeen van die 7 huise, nuwe name van bergpieke kry:

Huis 1 – Langeberg

Huis 2 – Tierkop

Huis 3 – Kransberg

Huis 4 – Groenkop

Huis 5 – Touwsberg

Huis 6 – Losberg

Huis 7 – Witberg

Huis 8, wat eers in 1987 voltooi is, sou Spitskop genoem word, maar weens praktiese redes word daar nou net nommers gebruik. Die name is egter op elke huis aangebring. Op 1 April 1991 is Mej Susan Crafford (later Kuyler) as Hoof aangestel en in 1999 is Mev Anna Porter aangestel en in die Pos as Hoof was tot en met Mei 2015. Die huidige Hoof/Bestuurder is Mev Ronell Lindholm.

In September 1994 is die ontspanningsaal en motorhuis kompleks voltooi en ingewy.

Gedurende 2015 is die kantoorkompleks en personeelkamer vergroot nadat ‘n hulpmaatskaplike werker aangestel is.

Loeloeraai

Daar is besluit dat Môreson weens stygende getalle en om die streek beter te bedien, ‘n sattelliet-huis moet open. In Maart 1984 het Môreson ‘n huis in St Savior Straat, Oudshoorn in gebruik geneem. Die huis is vir R500 per maand gehuur van die Rooms-Katolieke Kerk. Mnr en Mev Cronje sou as huisouers die projek van staple stuur. Die eerste kinders het op 2 April 1984 in die huis ingetrek en dit is Loeloeraai gedoop. Hierdie huis het ‘n Beheerkomitee gehad wat hul sake bestuur het en aan Môreson verslag moes doen. Weens die opening van nuwe spesiale skole in George en die vergroting van Môreson self, is die huis op 11 Desember 1993 gesluit en nie meer in gebruik nie.

Vakansietyd

Vandat die Kinderhuis begin het om ook vakansietye oop te bly, het die behoefte aan ‘n eie vakansiehuis vir Môreson ontstaan. Omdat daar nou altyd ‘n groepie kinders was wat vakansies agterbly, moes daar reëlings vir hulle getref word.

Uit ‘n notule van 7 Junie 1973 word gemeld dat die “tuisblyers”  vir die vakansie, vanaf 15 tot 22 Junie na die Burger Strandhuis in Muizenberg, Kaap sou gaan.

In ander notules word hierdie behoefte ook sterk deurgegee. In 1983 word daar gemeld dat  ene Mnr Willem Greeff ‘n aanbod van 2 erwe by Glentana aan die waarnemende Voorsitter, Mnr Herbst, gemaak het.

In ‘n latere notule word daar verdere kontak met Mnr Greeff vermeld, maar daar is later besluit om nie van die aanbod gebuik te maak nie, omdat die swemplek by Glentana gevaarlik is.

Op 21 Maart 1985 is die kwessie van ‘n vakansiehuis weer bespreek en op 15 Mei word daar na erfpryse vanaf  Reebok tot Boggeomsbaai gekyk. In ‘n verslag van 20 Junie 1985 word daar vermeld dat ‘n begin gemaak is met die aankoop van ‘n erf by Boggomsbaai, en op 25 Augustus word Mnr Brian Stokes as Argitek aangestel.

Die eiendom is intussen verkoop.

Daar was egter ook hartseer tye. In November 1989 het ‘n bussie met kinders ‘n ongeluk gehad by die uitdraaipad na Victoriabaai. Die huisvader Mnr Bezuidenhout, wat bestuur het, en drie van die kinders is oorlede.

Môreson Vandag……

Môreson Kinder en Jeugsorgsentrum funksioneer vandag steeds op die perseel van 3,82 hektaar aan die oewers van die Katrivier, wat in 1977 in gebruik geneem is. Dit bestaan uit 8 huise waarin 12 tot 14 kinders in elkeen deur bekwame kinder en jeugsorgwerkers  versorg word. Kombuis, huishoudelike en instandhoudingspersoneel en ander personeel soos die tesourier, sekretaresse, verpleegkundige, hulpmaatskaplike werker, program koordineerder en twee maatskaplike werkers staan die hoof/bestuurder by om na die kinders se belange om te sien.

Daar is tans 100 kinders tussen die ouderdomme van 3 tot 18 jaar wat by Môreson versorg word.

Die terrein met sy netjiese geboue en pragtige groen grasperke met bome, swembad en speel-apparaat, is waarlik ‘n monument vir diegene wat so hard gewerk het om dit tot stand te bring.

Tuisonderrigprogram

Gedurende Januarie 2014 begin ‘n tuisonderrigprogram onder leiding van Mev Maretha Joubert. ‘n Klaskamer is aangebou wat aangrensend  is tot huis 3.

Diep Spore….

Die geskiedenis van Môreson sal egter nie volledig wees sonder die name van een van diegene wat baie tyd en moeite ingesit het om Môreson te bring waar dit vandag is nie. Mev Kath Jansen was vir 24 jaar ‘n lid van Môreson se Bestuurskomitee en ook vir 12 jaar – sedert 25 Junie 1984 tot April 1996 – Voorsitter van die Bestuur. Mev Jansen is gedurende Julie 2016 oorlede. Mev Rosie Schoeman was ook vir baie jare hier betrokke.